Bergen

Hierdie artikel handel oor die stad in Noorweë. Vir ander gebruike van die term Bergen, sien gerus Bergen (dubbelsinnig)

Bergen


Europese Kultuurhoofstad 2000
Europeisk kulturhovedstad 2000
Europeisk kulturhovudstad 2000


Kaart Wapen
Vlag
 Land Vlag van Noorweë Noorweë
 Provinsie (Fylke) Vestland
 Koördinate 60°23′N 05°20′O / 60.383°N 5.333°O / 60.383; 5.333
 Stigting 1070
 Oppervlakte:  
 - Totaal 464,71 vk km
 Hoogte bo seevlak 0–987 m
 Bevolking:  
 - Totaal (31 Desember 2022) 289 330[1]
 - Metropolitaanse gebied (2023) 469 238
 - Bevolkingsdigtheid 622/vk km
 - Taalvorm Onsydig
 Tydsone UTC +1 (MET)
 - Somertyd UTC +2 (MEST)
 Klimaat  
 - Tipe Gematigde seeklimaat
 - Gemiddelde jaarlikse temperatuur 8,4 °C
 - Gem. temp. Januarie/Julie 2,6 / 15,5 °C
 - Gemiddelde jaarlikse neerslae 2 495,5 mm
 Burgemeester Marit Warncke (H)
 Amptelike webwerf bergen.kommune.no

Bergen Noors: [ˈbæ̀rɡn̩], ; histories: Bjørgvin) is met 'n oppervlakte van 464,71 vierkante kilometer en 'n bevolking van 289 330 (soos op 31 Desember 2022) die tweede grootste stad van Noorweë ná die hoofstad Oslo. Dit lê in die Wes-Noorse provinsie (fylke) Vestland en vorm 'n stedelike munisipaliteit (kommune). Bergen is die administratiewe, ekonomiese en kulturele sentrum van Wes-Noorweë, 'n gebied wat die meeste van Noorweë se belangrikste uitvoergoedere soos veral ruolie oplewer, en ook die poort na die Wes-Noorse fjordkus wat deur Unesco tot wêrelderfenisgebied verklaar is.

Die Bryggen-kwartier in Bergen

Tydens die heerskappy van koning Olav Kyrres (1066–1093) het Bergen die eerste hoofstad van die Noorse koninkryk geword en was tot 1830 die grootste stad in Noorweë. In die Middeleeue was Bergen 'n belangrike handelshawe in Noord-Europa wat onder meer 'n belangrike rol in die stokvishandel met Sentraal-Europa gespeel het. Hanseatiese koopmans uit Noord-Duitsland het eeue lank oor hul eie kantoor, Det Tyske Kontor ("Die Duitse kantoor") in Bryggen, beskik. Bergen het self nooit by die Hanse aangesluit nie. Naas die uitvoer van ruolie speel handel en nywerhede nog steeds 'n belangrike rol. Daarnaas dien Bergen ook as vertrekhawe vir die bekende Hurtigruten na hawestede langs die kuslyn van Wes- en Noord-Noorweë.

As 'n belangrike kulturele sentrum spog Bergen met die eerste nasionale teater wat in Noorweë geopen is en een van die oudste simfonieorkeste ter wêreld, die Filharmoniese Orkes van Bergen wat in 1765 gestig is. Bergen beskik daarnaas oor 'n groot aantal ander kulturele instellings soos museums en is die gasheerstad van die Internasionale Musiekfees van Bergen. Dit is ook die geboortestad van die bekende Noorse komponis Edvard Grieg. Danksy die ryk kuns- en kultuurlewe het Bergen in 2000 as 'n Europese Kultuurhoofstad gefungeer.

  1. (no) "De 10 største byene, tettstedene og kommunene i Norge". Statistiek Noorweë. 5 Januarie 2023. Besoek op 10 Mei 2024.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search